BERGTEATER

Danie Niehaus wat 'n huisvriend van die De Milanders is, het sowat agt jaar gelede die visie gehad dat 'n opelugteater op die plaas geskep kan word. Nadat koppe bymekaar gesit is, is daar toe begin om die teater te ontwikkel. Die eindresultaat was werklik iets besonders en verskeie van die land se top kunstenaars het al daar opgetree. Van Bushman's Cave Bergteater het Ollie Viljoen onomwonde gesê dat díe teater die mooiste en uniekste is waar hy nog opgetree het!!

Van die ander kunstenaars wat al daar opgetree het, is o.a. Steve Hofmeyr, Theuns Jordaan, Drie van die Bestes, Emo Adams, Rina Hugo, Sarah Theron, Bobby van Jaarsveld, Romanz, Chris Cameleon, Nicholis Louw, Mathys Roets, Country Big 6, Christo & Cobus, asook hulle jonger broer Nic Stevens, wat die DVD van sy treffer song "Jonk Bly" daar opgeneem het - en vele meer. (Dit is gereeld op TV te sien.) Sien ook die foto links onder waartydens 'n hele paar kunstenaars by die "Vriende van Arno" konsert opgetree het. O.a. is op die foto by daardie geleentheid Wicus van der Merwe, Michiel Visser (Worsie se broer), Marius du Bruyn, Gerrie Pretorius, Arno van Zyl (storieverteller van Springbok), Danie Niehaus, Alan Hughes en Pieter van der Westhuizen.

Bushman's Cave bied ook die opsie van oornag kampering met volledige ablusie-geriewe.Daar is ook vier 4x4 roetes beskikbaar. Van die bes bewaarde Boesmantekeninge het daar behoue gebly en die baie besonderse plantegroei met spesies van die Kaapse fynbos, is 'n lus vir die oog. Die Tafelbergsandsteen rotsformasies is ook werklik 'n moet om te sien en eie aan die omgewing. Etes wat in die ope lug kombuis voorberei word, met vars gebakte roosterkoeke en brood uit die buite-oond as die hoogtepunte, sorg ook altyd vir 'n feesmaal. Sien ook ander fotos op aanhangsel vir 'n breër prentjie van Bushman's Cave.

Ek glo dat enige kunstenaar wat hier optree, die besonderse geleentheid vir die res van sy lewe sal onthou. Dit is voorwaar 'n belewenis om op die manier die grootheid van die skepping te ervaar en deur dit verder te komplimenteer met musiek, maak dit 'n onvergeetlike uitstappie, waar die reis die eindbestemming is!!